Al wat die trekleier Louis Tregardt ten doel gehad het met sy lukraak inskrywing op die vyfde bladsy van sy handgebinde boek was “Kladboek van L. Tregardt”. Algaande het dit egter ‘n dagboek geword, die verhaal van ‘n trek deur die onbarmhartige binneland tot in Delagoabaai, waar die son soos elke ander dag aan die seekant opkom – en waar die trek anders eindig as wat enigiemand voorsien het.



