“Die lewe is nie ‘n storie nie,” waarsku Timus se pa sy seun wat nie aldag tussen werklikheid en verbeelding kan onderskei nie. Roepman is egter ‘n bruisende weerspreking van hierdie woorde. Dit is ‘n storie wat die lewe self is: eerlik en outentiek, skokkend selfs, maar altyd getemper deur patos en humor wat die leser van die begin af oorrompel. Timus, aartsonskuldig omtrent die soet en duister dinge van die lewe, maar terselfdertyd aartsnuuskierig, is die leser se ore en oe.
Die plek is ‘n spoorwegkamp in Durban; die tyd die stormagtige sestigerjare; die karakters onvergeetlik; Timis se vyf susters en sy ouer broer; Ouma Makkie met haar boerewysheid; Joon, die “roepman” wie se oe wegkyk van die aardse…’n Verhaal wat die magiese en die realistiese op betowerende wyse verbind.




