Petra Smit is ‘n skrywer wat sukkel om te skryf. Sy erf onverwags ‘n werkswinkel in ‘n klein Vrystaatse dorpie, en verkoop is die enigste opsie. Sy weet sommer sy gaan nie tussen die windpompe, die goue grasvelde en die miershope inpas nie; nie sy met haar stadsmaniere en ‘n getatoeeerde Portugese meisie aan haar arm nie.
Petra kies koers platteland toe om die werkswinkel te verkoop en maak tot haar verbasing baie gou twee vriende. Arno is ‘n sagmoedige reus met ‘n kind se verstand, en Monty, ‘n afgeskeepte kleuter. ‘n Onwaarskynlike vriendskap ontwikkel tussen die drie. ‘n Kameradie wat dalk deur Monty se pa, die aggressiewe Hannes, getoets word.
Johanna, Monty se oppasser, vertrou niemand nie, veral nie Monty se ma of pa, die vreemde Petra, of vir Arno, die getoorde man, nie.
Hierdie vier buitestaanders se diep menslike storie is vervleg met die van Susan, ‘n expat-kunstenaar wat sukkel om vrede te maak met die Afrika-demone wat haar al veertig jaar jaag.
Met Smit Motors ondersoek Warrington temas van medemenslikheid en familie. Sy verken ook die konsep van ouerskap, ook die gebrek daaraan. Wat beteken die woorde soos gesin en familie nou eintlik?