Ballet is Maxine se lewe, maar sy laat haar nie beledig nie. ‘n Langeveldt laat haar immers nie onderkry nie. Sodra sy ‘n draai gemaak het op haar korrelkop-oupa se suikerrietplaas, gaan sy oorsee om daar te dans.
Maar van haar dansplanne kom nie veel nie. Die plaas is ‘n leeukuil, en tussen haar siek oupa, Bernie en die hatige Truida raak sy gou vasgevang in die onderstrominge. Sy probeer haar oupa se laaste dae so gelukkig moontlik maak, maar die spoke van die verlede wil maar nie gaan le nie. Dan moet sy nog die arrogante Paul Stander op die buurplaas ook hanteer. Soos haar oupa gese het, Paul is ‘n man. Hy laat nie met hom speel nie, dit vind sy gou uit. En al vryf hy haar kort-kort verkeerd op, kan sy nie ophou aan hom te dink nie…