Flip, Ilse en Annelida van Atlantis faam beleef nog ‘n hoendervleis avontuur. Hulle kuier op hul oom se karooplaas en gou ontdek hulle dat die rustigheid en stilte van die veld net oeverblindery is. Jakkalsfontein word maande al deur ‘n plaag vreemde skilpaaie geteister.
Die werkmense het almal dorp toe gevlug en dit gaan hotagter, want dit is droogte en die plaaswerk staan nie stil nie. Om die kroon te span, het hulle ook nog sonde met hul eienaardige ou buurman. Hy kla, maar gewoonlik begin die moeilikheid by hom.
Dit word dringend noodsaaklik om een van die skilpaaie te vang. So gebeur dit toe dat die jong klomp dit een donker nag op die buurgrond waag – met rampspoedige gevolge.
Jy sal GALAPAGOS nie toemaak totdat alles sin maak en jy die laaste bladsy klaar gelees het nie.