Jaco Thom se eerste verhaal oor die Bybel, Die Bybelroman, vertel die Bybel se verhaal van die skepping af tot met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag…In die Bybelroman 2, kom die stormagtige verhaal van die vroee kerk aan die beurt, vanaf die hemelvaart van die Here Jesus tot by Johannes se visioene op die eiland Patmos…
Die nuwe Bybelroman is ‘n verwerking van die twee boeke in een enkele band en bied ‘n geheelbeeld van die Bybelse verhaal van Genesis tot Openbaring. Bekende karakters soos Abraham, die vader van die gelowiges; Dawid, die man na God se hart; die impulsiewe Petrus; die vurige Paulus en die rykmanskind Markus se lotgevalle word saamgesnoer in ‘n aangrypende roman met meesleurende aksie, groot persoonlikhede en die tema van goed en kwaad. Merkwaardige verhale van liefde en konflik, van die menslike en die bonatuurlike ontvou saam met die agtergrond waarteen dit afgespeel het.
Bo alles is die Nuwe Bybelroman ‘n verhaal waarin ‘n mens God self aan die werk sien. Want die Bybelverhale handel in die eerste plek nie oor Adam en Eva en Abrham en Dawid en Petrus en Paulus nie. Dit handel oor God, wat hierdie wereld en sy mense so liefhet dat Hy dit nooit kan los nie, maar sy eie Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, die ewige lewe kan he.



