Elias P Nel neem ons na ‘n kontrei van lugspieëlings, soutpanne en ysterklipkoppe, driedoringbosse met geurige pienk-geel blomme en witpluim-boesmansgras. Na plekke soos Verneukpan, Brandvlei en Kenhardt in die Noord-Kaap, sy jeugland.
Hier verander spoke gewikste vryers oornag in oujongkêrels, veg oupa Siepie in onderaardse gange met voorvaderlike gewere teen ‘n koninklike waterslang. En voer die Ding snags ‘n skrikbewind oor ‘n gesin, byna twee jaar lank.
Die geweste se sout-van-die-aarde mense ken die ongewoonste geneesmiddels. Vir vallende siekte trap jy in kookwater en op die Bybel.
Maar dis ook mense wat na aan hulle kerk lewe, die destydse NG Sendingkerk. Hieroor vertel Nel van sy deernisvolste, amusantste stories.