Selfs die mees gesoute omroeper trap een of ander tyd in ‘n slaggat wat hy of sy moes raakgesien het, en verspreek hulle gruwelik oor die lug. Die onverwagse gebeur ook dikwels in ‘n ateljee, soos apparate wat onklaar raak, lynverbindings wat ingee, of ‘n berig in ‘n nuusbulletin wat jou onbedaarlik laat lag.
Die verhaal van die radio is vol voorbeelde van skreeusnaakse insidente in en buite die ateljee, asook interessante en soms ondeunde persoonlikhede, wat oor jare legendes in die bedryf geword het.
Die boek handel oor die mense van die Afrikaanse radiodiens wat in 1937 begin uitsaai het – ‘n stasie wat talle naamsveranderings ondergaan het en tans bekend staan as RSG.