Die verhaal van drie eilande:
Suid van die suidwesmoeson waarmee die eerste seevaarders van die kus van Afrika na Indië oorgesteek het, lê die drie eilande Mauritius, Reunion en Madagaskar. Hulle is bure aan die ooskus met wie ons in vorige eeue in noue verband geleef het. Jan van Riebeeck het met hulle handel gedryf en duisende Malgasslawe is na die Kaap gebring en ‘n bydrae tot die bevolking van ons land gelewer. Tog is hierdie drie interessante eilande vandag vir ons heeltemal vreemd.
In hierdie boek Suid van die Wind, vertel Elsa Joubert ons nie net van haar eie merkwaardige ondervindings op die reis deur die eilande in die winter van 1961 nie, maar maak ons ook kennis met die veelbewoë geskiedenis, met die mense wat tans (toe) daar (ge)woon het en met die rassevraagstukke wat ook hulle politiek oorheers het.