Dis die somer van 1895 en die myndorpie Champion is in die greep van ‘n dispuut tussen myneienaars en mynwerkers. Stuart Duncan, die seun van ‘n ryk myneienaar, keer terug huis toe na ‘n jaar lange oorsese reis en tref sy tuisdorp in hierdie geskil aan. Die myneienaars weier om die mynwerkers se lone te verhoog en duisende myners staak. Wanneer Stuart se pa skielik sterf, erf hy die myne en bevind hy hom onverwags in die geskil direk teenoor sy jeugvriend en die gewilde leier van die stakers, Eric Vassall. Gaan hy saam met die ander myneienaars vasstaan teen vandalisme en liggaamlike aanvalle, of gaan hy toegee aan die myners se eise en gevaar loop om finansieël geruïneer te word?
Sy broers se oppasser is die verhaal van ‘n myndorp se stryd om reg en geregtigheid. Dit delf diep in die siel van ‘n jong gelowige wat worstel met die vraag: “Wie is die geringste van hierdie broers van my?” Hierdie boeiende roman is gebaseer op ware gebeure en bevat ‘n boodskap wat ongetwyfeld daarvan ‘n klassieke werk maak.