Tower met Marmering bied ‘n kennismaking met ‘n eeue oue kuns. Hoewel dit ingewikkeld lyk, vereis marmering geen spesiale gereedskap nie, en is dit so maklik om te doen dat enigeen dit kan bemeester.
Rob en Jacky Fletcher het hulle besondere kennis van marmering aangewend om ‘n praktiese gids saam te stel wat die boeiende kuns vir jonk en oud toeganklik maak. Die boek ondersoek die marmeringstegniek uitvoerig en verduidelik hoe om ‘n marmereffek op papier, materiaal, hout, leer, keramiek en kurk aan te bring. Daar is stapsgewyse instruksies vir 18 klassieke marmeringspatrone en die outeurs wys ‘n mens ook hoe om ‘n verskeidenheid aantreklike geskenke te maak wat ‘n unieke stempel dra en nooit nageboots kan word nie.