Wanneer Charlene Fourie – sewe maande swanger met ‘n tweeling – hoor dat haar man op sterwe lê na ‘n skermutseling in die Rhodesiese Bosoorlog, probeer sy haar eie lewe neem. Dié gebeure plaas hul lewens op ‘n koers weg van God en loop uit op ‘n era van leuens, geheime, misverstande en skeiding; ‘n tyd vol onsimpatieke psigiaters, knoeiende prokureurs, vriendinne wat mekaar verraai, gewetenlose sakemanne en veroordelende familielede.
Daar is egter ook tye wat Charlene en haar mense die herstellende genade uit die Vader se hand van nader leer ken en versoening, vergifnis en vertroue weer hul deel word. ‘n Tyd wat sy die deernis van vreemdelinge ervaar en die volmaakte vrede van oorgawe aan Jesus ontdek. ‘n Lint in die wind is die verhaal van ‘n vrou se soeke na ware vryheid. Dit bied terselfdertyd ‘n kykie in die siel van bipolêre depressie en die herstel wat moontlik is vir mense met geestesiektes.